Die volksraadslid

Share on email
Share on facebook
Share on linkedin
Share on twitter
Inhoudsopgawe

Ignatius Stephanus Ferreira, gebore 21 Maart 1841, het in 1865 saam met sy vader aan die Basoeto-Oorloë deelgeneem en hom in 1867 op die plaas Zonnebloem, later Destadesfontein, Clocolan, gevestig.

In 1878 is hy gekies tot Kommandant van die distrik Ladybrand en in 1890 tot Volksraadslid. Mnr Lodie van Reenen van Nova Barletta, Clocolan, kleinseun van Mnr Jan Steyl, Volksraadslid in die OVS tot in 1890, het vertel dat sy oupa `n welgestelde boer van Verkeerdevlei was.

Mnr Lodie van Reenen het later vir Oom Fanie van Rondekoppie, Clocolan, kleinseun van Oupa Naas (I S Ferreira) vertel dat Oupa Naas toe reeds vroeër al gevra is om homself verkiesbaar te stel vir die Volksraad. Hy kon dit egter nie aanvaar nie, omdat hy nie 500 pond in die bank gehad het nie – destyds `n vereiste vir `n voornemende kandidaat.

Toe hy weer gevra is om hom verkiesbaar te stel vir die 1890-verkiesing was hy gewillig, maar het nog steeds nie die 500 pond in die bank gehad nie. Hy was goed bevriend met Oom Jan Steyl, die sittende lid, en het per perdekar die afstand van ongeveer 60 km na hom in die Verkeerdevlei-distrik gery. Daar gekom, het hy die hele storie aan Oom Jan Steyl vertel en vra hom toe, “Sal oom nie asseblief vir my die 500 pond leen nie?”

Oom Jan het toe na sy kamer gegaan, bo van die klerekas `n sak geld geneem en een vir een die 500 goue ponde op die tafel afgetel. Volgens oom Lodie van Reenen was hulle twee alleen, en daar was niks op skrif gestel nie en dus ook hoegenaamd geen getuies of bewyse nie.

Oupa Naas het toe die geld op Ladybrand gaan bank en homself verkiesbaar gestel, d.w.s. as opponent van Oom Jan Steyl by wie hy die geld geleen het!!

Hy word toe ook verkies as Volksraadslid. Daarna het hy die 500 pond teruggeneem na Oom Jan Steyl, maar kry toe die volgende advies van Oom Jan, “Naas, noudat jy lid van die Volksraad is, sal jy die geld nodig kry. Neem dit maar weer en betaal my terug wanneer jy kan.”

Oupa Naas het dit toe gedoen – weer die geld gebank en ongeveer `n jaar later het hy dit teruggeneem vir Oom Jan Steyl.

NASKRIF:

Met die uitbreek van die ABO is Kmdt. I S Ferreira beveel om met die Ladybrand-Kommando na die westelike front te beweeg. Hulle was betrokke by die beleg van Kimberley en die slag van Magersfontein. In die proses is hy bevorder tot Hoofkommandant/Generaal van die Vrystaatse magte aan die westelike front. Tydens hierdie bevordering is hy blykbaar verkies met `n meerderheid van net een stem bo sy vriend De Wet.

In `n poging om Genl. Joubert by Paardeberg te ontset, was hulle in posisies op Koedoesrand ten noorde van Joubert se mag. Gedurende die nag van 18 Februarie 1900 het hy rondtes gedoen om die wagte tot waaksaamheid te maan. Toe hy aan die geweerloop van `n slapende wag trek het `n skoot afgegaan wat hom noodlottig getref het. Hy is op Petrusburg begrawe en na die oorlog herbegrawe op sy plaas Destadesfontein. Nadat die plaas verkoop is, is hy weer in Clocolan herbegrawe.

Die familie, veral sy vrou, het daarop aangedring dat die naam van die ongelukkige wag nooit bekend gemaak moet word nie. Dit is tot vandag toe nog `n geheim. Hierna is De Wet as generaal in die Vrystaat aangestel.

C R (Radie) Ferreira

September 2021

Patensie

One Comment

  • Ai, baie interessant! Dis vir my mooi hoe eties korrek Ferreira was om die geld wat hy geleen het, aanhoudend te wou terug betaal. Dis mos hoe dinge gedoen moet word.
    Ek wonder net oor een ding: daar word van Genl Joubert by Paardeberg gepraat: was dit nie Genl Piet Cronje nie? Joubert was mos maar hoofsaaklik in Natal totdat hy die ongeluk met sy perd gehad het, totdat hy in 1900 weens komplikasies van die val oorlede is en Louis Botha toe in sy plek as Kommandant-Generaal aangestel is. Wonder maar net….
    Groete en mooi loop!

Comments are closed.

Teken aan vir die gratis nuusbrief om nie uit te mis op belangrike Ferreira nuus nie.

Kontak ons vir meer inligting

Scroll to Top

Teken aan en jy sal nie uitmis op die makietie nie! En jy hoef nie bekommerd te wees nie. As jy nie meer van ons af wil hoor nie, verwyder jouself maklik van die nuusbrief af. No hard feelings!